​Die pragtigste huis in die Kaap

Johannes van Graan Johannes van Graan
Val de Vie - Les Lions Street, Salomé Knijnenburg Interiors Salomé Knijnenburg Interiors Sala da pranzo in stile classico
Loading admin actions …

Op vandag se homify 360° kyk ons na ‘n plaaslike skepping reg in die Moederstad. Ontwerp deur Salomé Knijnenburg Interiors van die Paarl, is hierdie moderne huis se eerste aksie om ons asems weg te slaan, en dan om ons te inspireer met sy skone styl, slim uitleg en kreatiewe kleure.

En moenie vergeet om op te let waar ou (of sal ons eerder sê “vintage”) meubels gemeng word met moderne style om ‘n heel indrukwekkende spasie te skep nie. Die eindresultaat is ewe mooi en gemaklik – en stylvol, natuurlik! 

Voel vry om soveel nota’s te neem as wat jy wil…

Die oop uitleg

Soos die meeste huise geniet dié skepping ook ‘n heel oop styl aan die agterkant. Kyk net hoe heet daai balkonne, stoepe, vensters en tamaai glasdeure ons welkom.

Dis mos nou wat mens wil hê vir bietjie stylvolle ontspanning en/of kuier saam met die vriende.

Die sitkamer

Daar is darem maar net iets aan neutrale kleure wat ‘n elegante styl aan ‘n vertrek kan verleen. Voeg by die klassieke ontwerp, en ons het te doen met ‘n sitkamer wat mens sommer lekker jaloers maak! 

Dié sitkamer deel in ‘n oopplan-uitleg saam met die kombuis, en alhoewel altwee spasies sulke ligte neutrale kleure geniet (soos ons nou sal sien), is ons seker hierdie vertrek staan netjies op sy eie uit.  

Gepraat van uitstaan – kyk bietjie na daardie donker-kleurige muur links met die elegante spieël en kaggel. Dis mos nou hoe jy aandag trek!

Die kombuis

Ons is seker vele mense sal hulself geniet in hierdie kombuis, aangesien dit die perfekte uitleg bied waar jy kan maak asof jy die ster van jou eie kosmaak program is. 

Soveel briljante elemente is hierso: daardie tamaai eiland waarop jy meer as een dis op ‘n slag kan aanmekaarslaan; die sjarmante kaste met hul sneeu-wit kleure in die agtergrond; en moderne toestelle (en ligte) wat ‘n tikkie glans verleen danksy hul vlekvrye staal.

Die eetkamer

Net ‘n paar treë van die kombuis eiland af tref ons die eetkamer area aan – en kyk net hoe mooi staan hy uit danksy sy aardse kleure wat so treffend kontrasteer met die spierwit kombuis. 

Nog ‘n slim manier om een spasie van ‘n ander te onderskei in ‘n oopplan-uitleg is deur middel van ‘n mat, maar wees versigtig (veral met ‘n eetkamer) dat jy nie ‘n mat kies wat so dig is dat dit die in-en uitstoot van jou stoel gaan belemmer nie.

Die stylvolle stoep

Aangesien ons nou in die Kaap is, is ‘n kuierplekkie aan die buitekant ‘n moet – en gelukkig voorsien hierdie huis een wat net so sjiek soos die binnekant is. 

Lekker geleë in die koelte, verskaf hierdie stoepie al die noodsaaklikhede vir ‘n lekker saamkuier: ‘n ingeboude braai, genoeg sitplek en stylvolle meubels. 

Die wenresep hier (in ons opinie, altans) is die verskeidenheid patrone en kleure wat moderne styl verleen in die vorm van kussings en matte.

Gaste slaapkamer

Hulle sê mos ‘n verandering is so goed soos ‘n vakansie, en daarom is dit heel verfrissend om in so super moderne huis ietsie “anders” te sien. In dié geval is dit die gaste slaapkamer se kopstuk: twee ou skuurdeure wat ‘n bietjie “shabby-chic” styl gee en, dus, heel treffend uitstaan tussen al die moderne meubels.

Die badkamer

Ons sluit af met die badkamer, waar die ontwerpers terugkeer na ‘n heel skoon en netjiese styl, wat heel doeltreffend bereik word deur die wit kleurskema. 

Maar natuurlik moet enige kamer (veral ‘n badkamer) soveel meer as “mooi” wees; dus, geniet hierdie een ingeboude kaste en laaie om te sorg dat die spasie so netjies as moontlik bly. 

Om ‘n tikkie sagtheid aan die vertrek te gee is ‘n oorgetrekte voetstoeltjie en potplantjie bygevoeg – jip, handdoeke is definitief nie die enigste “materiaal manier” om ‘n badkamer op te styl nie. 

Definitief ‘n huis met ‘n styl wat ons oor en oor na kan kyk!

Van die Kaap na Johannesburg, kyk bietjie na Die Kloof Straat huis met ‘n treffende styl.

Hai bisogno di aiuto con il progetto della tua casa?
Contattaci!

Articoli più recenti